Bekalk, dit is hoog tyd

Optimale saaiboerderypraktyke begin met betroudare monsterneming en ‘n goed beplande bekalkingsprogram. Sodoende word die pH-vlakke reggestel tot op die vlakke wat gewasse nodig het om optimaal te groei.

Dit is soms moeilik om bekalking in die reeds besige skedule in te pas. Die venstertydperk van stroop tot bewerking is kort en met die Augustuswinde is dit moeilik om alles ingepas te kry. Op oorlêlande is dit aangewese om betroubare monsterneming in die herfs te laat doen en dan reeds te bekalk. Lande wat nog gewasse op het gedurende die herfsmaande, sal egter eers gemonster kan word sodra die oesproses afgehandel is en dan in die lente (Sep-Nov) bekalk word. Dit is ook dan wys om hierdie kalk sommer in te werk met een van die primêre bewerkings soos dieprip, ploeg of skoffel en sodoende op bewerkings te bespaar.


Grondmikrobes wat verantwoordelik is vir die afbreek van organiese materiaal in die grond en die mineralisering van stikstof, word geïnhibeer deur suurgronde. Bekalking in die lente lewer dus reeds die voordeel met die warm en vogtige toestande wat bevordelik is vir die grondmikrobeaktiwiteite. Lentebekalking gee ook genoeg tyd vir die kalk om te begin om die grondsuur te neutraliseer voor die volgende gewas geplant word. Hierdie neutralisering vind nie alles dadelik plaas nie, maar is ‘n faktor van die fynheid van die produk en die reaktiwiteit van die bron.


Bekalking verhoog die beskikbaarheid van bemestingstowwe en verbeter grondstruktuur. Die waarskynlikheid van mangaan- (Mn2+) en aluminium toksisiteit (Al3+) verlaag en verbeter simbiotiese stikstofbindings in peulgewasse.


Lande wat kalk benodig, word geïdentifiseer op grond van die volgende:
• Lande kan geïdentifiseer word op grond van prestasie wat afneem. Tipies sal ‘n land se opbrengs stadig begin afneem en selfs skielik een jaar glad nie meer presteer nie. So ‘n land se bekalkingskedule moet getrek word en so gou moontlik reggestel word.
• Meeste produsente is op ‘n vaste bekalkingskedule van 3 tot 4 jaar. Hierdie praktyk voorkom dat bekalkingskoste handuitruk. Die produsent bestuur dus die monsterneming en koste verbonde aan bekalking as deel van sy bemestingsprogram en kan daarvoor begroot. Gereelde bekalking voorkom ook die versuring van die ondergrond, wat baie moeilik is om weer op te hef.


Produsente bekalk saaigrond om pH(KCl) vlakke bo 5,5 te kry. Volgens die navorsing wat deur Dr Pieter Haumann reeds in 1986 gedoen is, word daar nie meer opbrengsverliese verwag indien die grond se pH(KCl)-waardes bo 5,2 gehou kan word nie. Produsent bekalk juis daarom tot op ‘n vlak van 5,5, want dit moet in gedagte gehou word dat daar 3 jaar gaan verloop voor die spesifieke land weer bekalk gaan word. Dr Haumann se studie het verder bewys dat sou die pH(KCl) vlakke onder 4,4 daal daar reeds 10% opbrengs verliese vewag word. Sou die pH(HCl) egter onder 4 daal, kan die opbrengsverlies so groot as 30% wees.

By pH-waardes van bo 5,5 (KCl), is die toeganklikheid van voedingselemente optimaal en funksioneer die grondmikrobes ook op hul beste. Weens die hoë koste van bemesting (kunsmis en kalk), is sommige produsente geneig om veral op bekalking te bespaar, terwyl dit juis die belangrikste middel vir neutralisering van suurgrond is om die beskikbaarheid van voedingstowwe te optimaliseer.


Kalsium en magnesium maak ‘n integrale deel van ‘n gewas se voedingsbehoeftes uit, dus is dit van die uiterste belang dat plante nie aan hierdie voedingstekorte onderwerp word nie. Bekalking voor planttyd is ongetwyfeld die enigste manier om die probleem van kalsium- en magnesiumtekorte op te los. Hierdie tekorte sal egter slegs met die regte soort kalk en die regte bekalkingsprogram voordat geplant word, reggestel kan word.


Bekalk en bemes jou grond vir optimale produksie.