Boodskap aan klante

Geagte kliënt of klant, Ek wil ons opregte dank betoon vir u positiewe gesindheid teenoor Bastion die laaste jaar, dis sowaar ‘n riem onder ons hart.

Dis ook my voorreg om met u te kommunikeer oor ‘n paar belangrike goed rakende die huidige onsekere omstandighede. Dis vir ons belangrik om openilk met u te kommunikeer en die waarheid in die gesig te staar.

Ons sien dat voorsieningskettings wêreldwyd versteur raak, en ‘n goeie voorbeeld is die vleis ketting in die VSA. Ons sien groot, sterk ekonomieë wat geweldig struikel. Ek wil u nie weer bombardeer met al die negatiewe nuus nie – maar my boodskap aan u is dat niemand kan sê dat die gebeurtenis hulle nie geraak het of verder gaan raak nie.

Daar is verseker ‘n kans dat die makro ekonomiese toestande die SA graan bedryf sal beinvloed. Ons sien reeds dat likiditeit besig is om op te droog en dit gaan verseker elkeen van u op een of ander wyse beinvloed.

Dit is dus uiters belangrik om baie noukeurig na risiko te kyk, en seker te maak met wie u besigheid doen. Die van u wat herverkopers is met eie debiteure maak asb baie seker dat u debiteure risiko prosesse in plek het, want daar gaan ‘n tekort aan beskikbare krediet wees.

Selfs al doen u slegs kontant besigheid – maak 100 % seker dat u nie teen-party risiko miskyk nie. Maak seker u doen besigheid met volhoubare verskaffers, wat hulle finansiële verpligtinge kan nakom. Daar is volop voorbeelde van mense wat ‘n “winskopie” kontant gekoop het, net om later uit te vind die produk kan nie gelewer word nie en die instansie betaal nie die kontant terug nie. Ek herhaal – maak 100 % seker met wie u besigheid doen. As dit te goed klink om waar te wees, dan is dit gewoonlik so.

By Bastion kyk ons uiters krities na finansies en bestuur ons besigheid met versigtigheid en omsigtigheid. Ons het krediet beskermingsprosesse in plek en ons verseker u dat u besigheid veilig in ons hande is.

Ons wens u elkeen baie sterkte toe vir die seisoen wat voorlê en sien uit om vir u van diens te wees.